Met Johannesburg wat deesdae soos ’n waterpark op die Oosrand lyk, is dit maar moeilik om enigiets in die buitelug te geniet, tensy jy dit dik smaak om vir die mense by die versekeringsmaatskappy te probeer verduidelik hoekom jy geskiem het dis ’n kiefpiele idee om met jou Ford Ka deur ’n vloed van twee meter hoog te ry.

Die afgelope naweek wou ek ’n beesstertjie of wat in die pot gooi, maar ná al die reën is droë braaihout skaarser as common sense by Eskom. Toe skiem ek ek gaan vir hom tagine. Kyk, ’n tagine is so ’n fênsie pot met ’n dome-agtige deksel wat jy op die stoof of in die oond kan gebruik. Hy lyk amper soos Noddy se hoedjie. Terloops, weet jy hoekom Noddy ’n klokkie op sy hoed het? Want hy’s ’n poes. tagineAnyway, as jy nie ’n tagine het nie, kan jy sommer ’n gewone casserole-pot gebruik. Hier is wat jy alles gaan nodig kry vir so 4 mense:

Wat jy nodig het:
Beesstert – so 1,5 – 2 kg
Olyfolie
Vars roosmaryn en tiemie, fyngekap – so handvol
So 3 teelepels vars gekapte knoffel
1 – 2 rooiuie
Port of rooiwyn – 1 koppie
Beesaftreksel – so 1 koppie
Vars room – 250 ml
Blatjang – 3 eetlepels
Bruinsampioene
Sout en swartpeper

Op ’n warm stoof-/gasplaat, kry die olie lekker warm en braai die vleis lekker bruin. Haal dit uit en braai die uie en knoffel in die vleis se sappe vir so 5 minute. Sit dan weer die vleis by. Nou moet die port bykom. Ek is seker iemand het al vir jou ’n bottel port present gegee op ’n kol, maar as jou vriende te common is kan jy maar rooiwyn ook gooi. Probeer ten minste iets ordentliks in die hande kry. Johannisberger Red-dooswyn is nie die ticket nie. Saam met die port/wyn kan jy so bietjie aftreksel bygooi, sodat die vleis mooi bedek is. Gooi sout en swartpeper en die vars kruie by en kry die hele spulletjie aan die kook. Nou wat die oom nou gaan sê is baie belangrik, outjies: Sodra die vloeistof lekker borrel, VERLAAG die plaat se hitte. Hy moet net-net prut. Sit die deksel op en gaan kyk so paar episodes Breaking Bad. Jy kan so ses deurwerk. Want hy moet LANK kook, pappie. En moenie elke 10 minute die deksel gaan lig om te check wat aangaan nie. Los die ding. Solank jy nie brand ruik nie, is alles klopdisselboom. Jirre, wat ’n lekker woord. Na so 3-4 uur kan jy die deksel lig, die room en blatjang en sampioene bymoer en die deksel toemaak vir nog so 2 uur. Check, die vleis moet so sag wees dat dit van die bene afbliksem. Dán is hy reg. Gooi weer so bietjie sout en peper en vreet vir hom saam met mash of rys of selfs vars brood. Hy is so lekker, jy gaan sommer jou tjommies se vingers wil aflek.
beestert

Deel so bietjie...